En daar was...
- Yolanda Botha
- Jan 18, 2018
- 2 min read

Klassieke Klanke
In 2015 het Helderberg NG orreliste, Yolanda Botha, ‘n gratis konsert gereël om fondse vir die restourasie en onderhoud van hulle pyporrel in te samel. Hierdie konsert staan bekend as Klassieke Klanke en maak gebruik van plaaslike musici en gemeentelede. Die konsert is goed ontvang en het oor die R30 000 vir hulle orrelfonds ingesamel. Twee jaar later, en hierdie jaarlikse instelling het gegroei tot ‘n konsertreeks wat ‘n Klassieke Kitaar Klanke en Klassieke Orrel Klanke ingesluit het.
Dit was belangrik vir Botha dat al hulle konserte verniet aangebied word. “Deur ‘n gratis konsert te hou kry baie musiekliefhebbers van die omgewing, wat nie noodwendig die finansies het om duur konsertkaartjies te koop nie, die geleentheid om so ‘n geleentheid by te woon. Vir diegene wat ook skrikkerig is om op Saterdae laat die N2 aan te durf om konserte in Kaapstad by te woon, is ons konsert die gerieflikste en veiligste opsie”. Die orrelfonds benodig steeds fondse en konsertgangers is altyd welkom om donasies te maak na afloop van die konsert.
Weens hulle sukses, het musiekkonserte by Helderberg Gemeente ‘n instelling geword, met klassieke musiekliefhebbers wat van regoor die groter Kaapstad konserte bywoon.
Nou is dit die maand Oktober en tyd vir die grand finale: hulle tradisionele Klassieke Klanke, met solo-, koor- en orkeswerke.
“Ons voer enige klassieke en geestelike werke op wat tydloos, geliefd en natuurlik hartroerend mooi is.”
Woon gerus hierdie geleentheid by, wat plaasvind op Sondag, 15 Oktober om 16h00 in Helderberg NG gemeente. Geniet billike verversings voor en na afloop van die konsert in ons Tent.
Maak jouself sommer gereed vir die volgende seisoen se gratis Helderberg Konserte, wat ‘n Klassieke Klavier Klanke, Klassieke Orrel Klanke en ‘n Klassieke Fliek Klanke gaan insluit.
Comments